Monday 4 October 2010

Is dit relevant om vandag nog te vas?

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

In ‘n kultuur waar die horison gestippel is met goudgeel hamburger boë en ‘n verskeidenheid van pizza tempels, is vas nie ‘n gunsteling tydverdryf nie. Ons is so gewoond daaraan om te eet wat ons wil wanneer ons wil, dat die vrywillige weerhouing van kos iets is wat fronse ontlok by die meeste, en bestempel word as vreemd en outyds. Die waarheid is dat vas nie outyds is nie, dis antiek! Dis iets wat op weeklikse of maandelikse basis deur miljoene Christene deur die eeue heen beoefen is, en ten sptye van hierdie feit, deur groot gedeeltes van moderne kerk verwaarloos word en min of geen kansel-blootstelling kry.

Media propaganda wil laat blyk dat die gemiddelde mens sonder drie groot maaltye en verskeie happies tussenin op punt van omkap is. Maar soos met enigiets van waarde, draai ons na die Skrif vir antwoorde: Dié dissipline word nêrens in die Nuwe Testament verhef tot ‘n wet of ‘n regulasie wat slaafs nagevolg moet word (soos bv. die Islammiese instelling van Ramadan) nie.

Christus het nooit gesê ‘Julle moet vas’ of ‘Julle sal vas nie’ – sy woorde in Matt 6:16 is bloot, ‘Wanneer julle vas…’. By Jesus was daar ‘n veronderstelling dat sy volgelinge sou vas. In Matt 9:15 kom vra die volgelinge van die Doper vir Jesus waarom sy dissipels nie vas nie. Hy bied die duidelikste antwoord oor die toepaslikheid van vas vir vandag wanneer hy sê: ‘Kan die bruilofsgaste [dissipels] dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom [Jesus] van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.’ (Insetsels myne).

Soos met al die geestelike dissiplines het vas opsigself geen krag om verandering in ons karakter mee te bring nie. Dis bloot ‘n kanaal wat ons voor God plaas, ‘n paadjie wat ons stap tot by die troon van die enigste Een wat werklike innerlike transformasie kan meebring. Deur onsself te weerhou van fisiese kos word die vlees binne ons onderdruk. Die ‘vlees’ gedeelte van ons samestelling wat gewoonlik reguleer wat en wanneer ons eet, hoe laat ons opstaan en hoe ons voel, word vir ‘n slag onderwerp tot die onveranderlike Gees van God binne ons. Iets waarteen dit gewoonlik vreeslik teëskop en kla. Vas stroop ons van dit wat pronk en die werklike ons, wat gewoonlik toegegooi word met vleis en speserye, kom na die oppervlak. ‘n Lig word geskyn op daai impulse of houdings wat die vlees gewoonlik mooi wegsteek, en ons leer meer oor onselfs in ‘n dag van vas as in ‘n normale maand.

‘n Oorvloed van moderne mites oor vas soos ‘Ek’t gehoor dis skadelik vir jou gesondheid’ of ‘Dit vernietig gesonde liggaamsweefsel’ is totale nonsense wat spruit uit onkunde. Die mees algemeenste vas is ‘n totale weerhouing van kos (nooit water) vir ‘n periode van 24 uur en vir beginners is dit goed om een maaltyd ‘n dag, soos middagete te sny. Hoe gereeld of tot watter mate gevas moet word is totaal in die hande van die individuele gelowige. In kort, om te vas is om jou geestlike sintue te verskerp. Soos een professor eenkeer prakties uitgebeeld het: ‘Christene is grotendeels afgestomp vir die misbruik van Jesus se naam in allerdaagse media, maar kyk ‘n Hollywood treffer na ‘n week van vas en gebed en sien of dit jou dan pla!’

No comments:

Post a Comment