Wednesday 29 September 2010

Christen Meditasie

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

In die modêrne tyd word Christene weerhou van intimiteit met hul Vader deur ‘n kultuur wat floreer op geraas, gejaag en skares. Solank die vyand ons kan hou by ‘n plek waar ons lewe ‘n gejaag van een projek na die ander is en ons weke in maande verander sonder enige betekenisvolle tyd saam met God, is hy gelukkig. Die Christelike disipline van Meditasie staan in skerp kontras met die aandagafleibaarheid en onhophoudelike gewarboel van kontemporêre kultuur en is vir hierdie einste rede so moeilik vir die moderne mens om te verstaan en beoefen.

In die Skrif sien ons iets anders: Karakters soos Isak, Eli, Moses, David en Jesus het die krag en nut van meditasie ingesien. Psalm 1 bestempel as ‘Welgeluksalig’ (tevrede en gelukkig) die man wat God se wet en werke dag en nag oordink. Jesus het homself gereëld uit ‘n buitengewoon besige bediening onttrek en “vertrek na ‘n verlate plek alleen” (Matt. 14:13).

So wat is Meditasie? Die woord ontlok by die meeste van ons beelde van Buddhistiese priesters, afgodsbeelde en wierook. Maar om Christen meditasie as sinoniem te sien met die meditasie van Oosterse godsienste is ‘n groot fout, die twee is, om die minste te sê, wêrelde uit mekaar. Terwyl Oosterse meditasie vryheid van die wêreld en leegheid van die denke probeer bewerk is die doel van Christen meditasie om ons vol van God, Sy wonders en Sy woord te maak. Christen meditasie is die vermoë om God se stem te hoor en te reageer daarop. Prakties behels dit ‘n tyd van stilte en rus, waar die gedagtes tot God gerig word. Gebed is nie noodwendig altyd deel van meditasie nie, dis ‘n tyd waar ons fokus op God en dink aan sy woord (miskien ‘n spesifieke vers of idee) en aan sy goedheid in ons lewe. Tydens hierdie tyd mag Vader vir jou spesifike raad of insig gee oor dinge. Ander tye ervaar jy weer net Sy Liefde en goedheid, iets wat die lewe opnuut ‘n nuwe glans gee!

Daar’s geen gehieme resepte of intelektuele toertjies betrokke nie. Meditasie is bloot ‘n tyd waar ons vir God ruimte en tyd maak om saam met ons te stap en gesels soos Hy eens het met die eerste mense in die tuin. Die enkeles wat bereid is om uit die geraas en gejaag van die lewe te stap en in die binnekamer stil te word voor die Skepper van als, pluk die vrugte van doelgerigte en betekenisvolle lewens. Om ‘n halfuur ‘n dag stil te word en niks te doen behalwe te dink aan God, is nie ‘n ‘mors van tyd’ nie, dit maak dalk net die ander 23 en ‘n half ure in jou dag die moeite werd!

Meer as wonderwerke en bybelstudie bewerk Christen Meditasie by ons ‘n familêre, eerbare vriendskap met Jesus. Die konstante teenwoordigheid van God verander van ‘n Teologiese dogma na ‘n stralende realiteit. Die lewe wat God tevrede stel is nie een van Godsdienstige pligte nie; dis om Sy stem te hoor en te gehoorsaam. God smag na diepe verhouding met jou, so word stil, en hoor wat Hy te sê het oor jou lewe!

No comments:

Post a Comment