Thursday 7 October 2010

Studie: Wat beteken dit om jou "denke te vernuwe"?

Die doel van die klassieke geestelike dissiplines is die totale transformasie van die innerlike persoon. Dit mik om ou ‘n vernietigende lewenstyl en gedagtepatrone te vervang met nuwe, lewe-gewende gewoontes. Met hierdie doel voor oë het die dissipline van studie ‘n baie belangrike plek – by geen van die dissiplines word verandering so daadwerklik en prakties meegebring, soos met studie nie. Meeste Christene bly vir jare gevangenis gehou deur vrese, angstigheid en desktruktiewe gedagtepatrone, net omdat hulle een van die primêre maniere wat God gebruik om sy kinders te verander, naamlik studie, af skeep.

In Rom 12:2 bemoedig Paulus ons om te verander deur ons ‘gedagtes te vernuwe’. Ons almal ken die skrif en lees dit gereëld maar weet ons werklik wat dit beteken? Gedagtes word nie vernuwe deur gebed, aanbidding of ‘n gehoorsame lewe nie. Gedagtes word slegs vernuwe deur dit toe te pas en in te fokus op enigiets wat verandering mee bring. Studie is blote herhaling, konsentrasie en reflektering op ‘n spesifieke objek, gebeur of persoon wat nuwe gedagtepatrone tot gevolg het. As dit gekompliseerd klink mag ‘n praktiese voorbeeld dalk help: Bestudeer elke aand, vir 300 dae ‘n jaar, die geweld en immoraliteit wat die sekulêre media met graagte vir jou sal voer en kyk die invloed wat dit het op jou gedagtepatrone en denkwyses (Probleme met woede en seksuele versoeking?). Aan die ander kant, maak ‘n punt daarvan om weekliks gedeeltes van die Bybel te bestudeer en analities te ontleed en neem waar hoe Vader stadig maar seker jou karakter en menswees omskep tot die vorm van Sy seun. Sukkel jy met vrees? Lees en bestuurder Johannes se raad oor volmaakte liefde in 1 Joh 4. Lae-selfbeeld? Lees na wat die skrif te sê het oor jou identiteit in Christus en die spesiale plek wat jy in Vader se hart behou (jou naam is in Sy handpalms gegraveer!). Slaan na, lees, bestudeer, herkou en reflekteer daarop. Kort voor lank mag jy dalk vind dat van jou ou slegte gewoontes vervang is met nuwe Goddelike gewoontes. Dis nie dat jy harder probeer om anders te wees nie, jy is anders – innerlike transformasie het plaasgevind.

Die idee is natuurlik nie dat ons nooit televisie kyk en heeldag moet Bybelstudie hou nie. Die idee is bloot dat ons baie versigtig moet wees wat ons onsself, en veral ons kinders, toe laat om te bestudeer (met herhaling op te konsentreer en reflekteer) op ‘n gereelde basis. Salomo stel dit nog die beste: Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe’ (Spreuke 4:23).

Die woord studie het vir baie ‘n konnotasie met ‘eksamen’. Lê gerus sulke idees opsy en benader die Skrif met die wete dat jy hier te doen het met woorde van lig en lewe. Onthou, een honderd persent van diegene wat vernietiging op hul eie lewe bring, doen so omdat hulle riglyne en beginsels van die Bybel geminag het. In Sy woord gee Vader vir ons duidelike en praktiese riglyne waar volgens ons ons lewens moet inrig. Bestudeer dit en laat jou gedagtewêreld toe om daar rondom te vorm. Studie van hierdie boek kan en sal jou totale lewe verander!

No comments:

Post a Comment