Sunday 28 November 2010

Eenvoud

God made man simple; man’s complex problems are of his own devising’ (Pred 7:29). Die Christelike dissipline van eenvoud word gebore uit die begeerte om weg te skrum van die frustrasie en uitputting van ‘n komplekse leefstyl. ‘n Leefstyl waar ons, met die hulp van ‘n materialistiese kultuur, streef om by te hou met die nuutse, beste en duurste tendense omdat dit is ‘wat almal doen’. Kontemporêre kultuur het ‘n obsessiewe beheptheid aan besittings en uiterlike voorkoms wat neig na gekheid.

Mense voel skaam om klere te dra of motors te bestuur tot dit oud word. Die media het ons oortuig dat om uit stap uit te wees met mode is om uit stap uit te wees met realiteit. Ons koop dinge waarvan ons nie hou nie, om mense van wie ons nie hou te beïndruk. Die feit dat mense vandag sal honger ly solank hulle sekere motors/klere/huise kan bekostig, staan as getuie van die psigotiese element van ‘n wêreld wat streef na status ten koste van engiets. Dis nodig om te besef hoe ongebalenseerd en onrealisties ons kultuur in hierdie opsig is en daarvan weg te hardloop, want gelykvormheid aan ‘n siek kultuur is sieklik.

Die Christen dissipline van eenvoud bring vryheid, eerlikheid en egtheid na vore. Daar is enorme vryheid wanneer ons besef ons nie hoef te spring tot die bevele van die modepolisie of te dans na die valse deuntjies van status nie. Daar is vreugde in die wete dat ons identiteit nie gekoppel is aan wispelturige menseopinies nie (dankie tog!), maar aan Christus. Christelike eenvoud is ‘n innerlike realiteit wat lei tot uiterlike gevolge en ek wil graag ‘n paar praktiese stappe noem - Beginsels wat, as dit deel word van ons lewe, eenvoud en egtheid meebring:

1. Koop dinge vir hul bruikbaarheid eerder as hul status. Motors is vir vervoer en huise vir skuiling. Hou op om mense te probeer beïndruk met jou kleredrag en beïndruk hul met jou lewe. As jy ‘n statusverslaafde is, ry bietjie fiets, maak jou eie klere en (indien prakties) maak gedeeltes van jou huis beskikbaar vir ander.

2. Vermy enigiets wat verslawing by jou ontwikkel. As jy verslaaf is aan televisie, gee jou stel weg. Raak onslae van enige media, soos radio, tydskrifte of boeke, waarsonder jy sukkel om klaar te kom. Hoe onderskei jy ‘n verslawing? Kyk vir enige ongedisiplineerde dwange. Hoe reageer jy as, bv. jou oggend koerant nie opdaag nie? Raak jy paniekerig en begin onbewustelik beplan hoe om jou nuusbron in die hande te kry. Raak jy kwaad vir die afleweringsdiens en dreig om te bel en skel?

3. Ontwikkel ‘n gewoonte om goed weg te gee. ‘n Paar jaar terug spaar en koop ek die nuuste stel oorfone teen ‘n hoë prys en ervaar kort daarna ‘n impuls van die Heilige Gees om dit weg te gee vir iemand anders. ‘Maar dis MY oorfone!’ is die meeste van ons se eerste reaksie. Maar ons moet volstrek weier om vas te klou aan enigiets behalwe God. Daar is groot vryheid en vreugde in weggee. As geld ‘n houvas op jou het, gee ‘n klomp daarvan weg en ervaar die innerlike vrylating.

Ek voeg onmiddelik by dat balans in die opsig belangrik is. Vader het nie bedoel dat almal ‘n eed van armoede moet neem en kluisenaars in die woestyn word nie. Ek glo dis Sy begeerte dat ons die lewe en Sy skepping moet geniet en eet van die vrug van ons werk. Maar Sy koningkryk moet altyd eerste kom en die dissipline van eenvoud help ons om Hom eerste te stel.

Tuesday 16 November 2010

Afsondering

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

Oor die algemeen het die moderne mens ‘n vrees vir alleen wees. Ons word wakker met geraas en gaan slaap met musiek in ons ore. Ons onderhou ‘n stroom van woorde en sinnelose geselsies net om sosiale kontak te behou. Jong kinders probeer elke denkbare oomblik tussen vriende spandeer en werkendes vlug na kroeë, kuierplekke of televisiestelle. Die oomblikke van die dag wat ons wel alleen is vind ons verlossing in selfone en radio’s – enigiets om nie verdoem te wees tot die klooster van eensaamheid en stilte nie. Eensaamheid is ‘n donker realiteit wat die meeste in ons kultuur vermy en ontvlug. Maar Jesus roep ons van eensaamheid na afsondering…

Eensaamheid of gekletter is nie ons enigste alternatiewe nie. Deur die Heilige Gees het Christene die vermoë om ‘n inner afsondering en stilte te kweek – iets wat eensaamheid en vrees vervang met vrede en tevredenheid. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, kan ons as kinders van Vaders, verlossing kry uit die afhanklikheid van gejaag en geraas waaraan ons kultuur verslaaf is. Die volwasse geestelike persoon hantaaf innerlike vrede en stilte tussen mense en in tye van alleen wees. Hy het nie ‘n vrees vir alleen wees nie want hy weet hy is nooit alleen nie. Hy het ook nie ‘n vrees om tussen mense te wees nie, want mense beheer hom nie. Die persoon met innerlike stilte is nie afhanklik van sosiale interaksie om goed te voel nie.

Dis een ding om met vroomheid die afsondering van die hart te bespreek en intellektueel saam te stem. Maar die geestelike dissipline is iets wat beoefen moet word. Ons kan alles weet en verstaan van meditasie, vas en stilte, maar as hierdie dinge nie op een of ander manier deel word van ons praktiese lewenservaring nie, mis ons die punt van die die klassieke geestelike dissiplines. Dieselfde is waar van die dissipline van afsondering. Dis meer as ‘n gedagtegang - dis ‘n aksie.

So wat kan dien as praktiese stappe tot afsondering? Wel eerstens is dit ‘n goeie idee om die nut te sien in die klein oomblikke van stilte wat ons dae vul. Dink aan die vroeë oggendure wanneer jy wakker word en alles nog stil is, of die stilte rondom ‘n oggendkoffie. Kere wanneer ons in die kar in verkeer vassit. In plaas van geïriteerd te word en frustrasie ‘n uitlaatklep gee, koop hierdie tye uit vir innerlike stilte. Kry vir jou ‘n plek in die natuur of in jou huis waar jy af en toe alleen kan wees – vry van die geblêr van die media en ander se opinies. Waar jy stil voor God kan wees en enigiets wat aandagafleibaar is verwyder sodat jy Sy stem kan hoor en op Hom kan fokus. Vier keer ‘n jaar, onttrek drie tot vier ure vir afsondering met die oog op reorïenteering van jou lewensdoelwitte. Wat wil jy bereik oor een jaar van nou? Wat van tien jaar van nou?

Stilte en afsondering het die ongelooflike vermoë om ons perspektief te gee. Wanneer ons in afsondering is en dink oor ons lewe en verhouding met Vader, vind orïentasie plaas en word ons vernuwe en versterk in gees en liggaam. Die skeppende stilte van afsondering help ons om werklik teenwoordig te wees tussen mense. Hy wat bevry is van die verslawing van mense en hul opinies, kan sinvol tussen hul verkeer.

Thursday 4 November 2010

Aanbidding

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

Aanbidding is ‘n leefstyl. Dis ‘n integrale deel van jou lewenswandel as Christen. Dis die vermoë om, vanaf die vroeë ogggendure wanneer jy wakker word terwyl dit nog donker is, tot laat in die aand, God se naam en werke groot te maak. Klink dit onmoontlik? Dit is beslis nie – waarom anders sou Paulus ons bemoedig het om te ‘bid sonder ophou’ (Tess. 5:17). Dis deur aanbidding ‘n lewenstyl te maak dat ons in konstante gesprek met God bly en ons verhouding met hom verdiep. Maak dit ‘n gewoonte om vir elke sonsopkoms vir God dankie te sê en vir elke sonsondergang sy Naam te loof en prys. Dit is dan dat Sondag-aanbidding die werklike doel bereik – wanneer dit ‘n uitvloeisel is van ‘n lewenstyl van prys.

Musiek speel ‘n belangrike rol in aanbidding, maar aanbidding is baie meer as die sing van liedere. Vorme en rituele kon nog nooit aanbidding meebring nie - ons kan al die beste tegnieke, nuutste instrumente en regte liturgie hê, maar aanbidding vind slegs plaas wanneer gees in aanraking kom met Gees. Wanneer ons hart en siel oopmaak en sonder reservering ‘n vergrootglas na die hemel wys sodat ‘n verdwaalde wêreld kan sien hoe groot ons God is.

Een van die redes waarom mense sukkel om God te aanbid in ‘Gees en waarheid’ (Joh. 4:24) is die ongegronde vrees wat baie het om emosies by hul aanbidding te betrek. Gevoelens is ‘n integrale deel van die menslike siel en behoort deel te wees van aanbidding. Vir diegene wat groot geword het in ‘n kultuur (of era) waar denke en intellek geprioritiseer is ten koste van emosies, is dit ‘n natuurlike struikelblok. Maar soos met enigiets anders, moet ons ons idees en reserverings opsy skuif en kyk wat die Skrif te sê het. Bestudeer die Ou Testament en jy sal sien dat die voorgangers van die geloof God aanbid het met die volheid van hul menswees - mense soos David wat ongereserveerd voor God gedans, jubel en juig het. Bestudeer die Nuwe Testament en jy sal sien dat die eerste Christene aanbid het met denke, will en emosies - mense soos Paulus en Silas wat in ‘n donker Filipynse tronk gesing en aanbid het tot die aarde begin skud het, letterlik.

Die idee is nie dat aanbidding ‘n irrasionele oefening is nie, maar dat aanbidding wat uitsluitlik kognitief is, nie voldoende is nie. Aanbidding is ‘n gebeurtenis op verskeie vlakke – iets wat soms gepaart gaan met intense emosionele ervarings en ander kere blote intellektuele bevestiging van waarheid is. Dis wat Jesus bedoel het toe hy gesê het dat aanbidding in ‘gees en waarheid’ moet geskied. Waarheid sonder gees is niks meer as mensgemaakte godsdiens nie. Aan die ander kant neig die gees sonder waarheid na mensgemaakte chaos. Werklike aanbidding betrek albei.

Kyk hoe die Psalms aanbidding beskryf. Die geskrifte van David loop oor met gebare soos om te kniel, jou hande te lig en selfs te dans. As aanbidding vir jou nog altyd net die blote sing van gesange was, volg David se raad en kyk die effek wat dit het op jou aanbidding.

Ons kan natuurlik al hierdie dinge doen en nooit aanbid nie. Daar is geen formules nie en enigiemand wat vir jou sê jou moet dit of dat doen wanneer jy aanbid verstaan baie min van werklike aanbidding. Vra hierdie week vir Vader watse tipe aanbidding Hy van jou verlang en reageer op sy impulse.