Wednesday 20 October 2010

Die dissipline van stilte

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

Woorde bly ons kragtigste wapen van manupilasie. Van kleins af leer ons om met ons woorde te kry wat ons wil hê. Met ouderdom ontdek ons die krag van stemtoon en lyftaal en kort voor lank kry baie mense dit reg om die hele wêreld uit hul hande te laat eet, nie deur krag of geweld nie, maar deur woorde. Ons kultuur leer ons dat elkeen geregtig is om met woorde sy eie opinies en reputasie te verbeter en beskerm. Maar het jy al oorweeg dat daar miskien tye is wanneer God ons wil regverdig en stilte van ons verwag? Kan dit wees dat ons soms die hunkering om ander uit te sorteer moet neerlê voor Vader en Hom ruimte gee om te doen soos Hy goed dink?

Die groot rede waarom dit vir die meeste mense so onmoontlik moeilik is om stil te bly is omdat dit hul so hulpeloos laat voel. ‘n Fanatiese stroom van woorde vloei deur ons na die buitewêreld, in ons aanhoudende pogings om ons publieke beeld aan te pas en te verander. Baie mense het so ‘n diepe vrees van wat ander van hul dink dat hul die fyne kuns van bedekte manupilasie bemeester het.

As ek iets verkeerd gedoen het (of selfs iets reg wat jy dalk as verkeerd mag interpreteer) ontvlam daar binne my die begeerte om myself te verdedig en met my woorde jou te help verstaan. Stilte is een van die diepste dissiplines van die gees omdat dit ons verhoed om onsself te regverdig en God toelaat om ons vir ons te baklei.

Glo ons rerig dat God in staat is om ons ‘reputasie en al’ te beskerm en verdedig? Dis een ding om kerk by te woon en godsdienstig te wees, maar as dit kom by ons reputasie raak dinge skielik baie persoonlik. Vir jare het ons ander se opinies en idees van ons beïnvloed met ons woorde, as ons nou stilbly, wie gaan ons reputasies beskerm? Ons is so gewoond daaraan om staat te maak op woorde om ander te beheer en beïnvloed, wat sal gebeur as ons net ewe skielik stil bly?

Wel, dit mag dalk net gebeur dat God beheer sal neem, maar ons sal Hom nooit toelaat om beheer te neem tensy ons Hom vertrou nie. Stilte is direk verwand tot vertroue.

Daar is enorme vryheid in die wete dat ons nie heeldag en heelnag onsself hoef te regverdig nie. Ons kan die deur oopmaak vir die Heilige Gees om as ons advokaat in te tree en ons te beskerm.

Die idee is nie om nooit te praat nie. Dis eintlik baie maklik om nooit te praat nie en daar is mense wat dit gebruik as ‘n onvlugtings taktiek. Dit is makliker om heeltemal stil te bly as om te praat met gematigheid. Die geheim lê daarin om te praat wanneer dit nodig is en stil te bly wanneer dit nodig is. God verwag nie stomheid van ons nie – daar is “ ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek” (Pred. 3:7).

Is daar by jou ‘n diepe afhanklikheid van woorde? Vra vir Vader om die dissipline van Stilte by jou te kweek en ontwikkel. Die volgende keer wat jy versoek word om met woorde jou omstandighede te reguleer, kyk uit vir die Heilige Gees se rooi vlaggie wat jou dalk wil waarsku om versigtig te praat.

No comments:

Post a Comment