Wednesday 13 October 2010

Belydenis: Raak ontslae van die guilt-trips...

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

As jy vir die meeste mense vra waarom Jesus kruis toe moes gaan, draai die antwoord gewoonlik rondom iets soos dit: “Mense was so sleg en God so kwaad dat Hy hulle nie kon vergewe tensy iemand groot genoeg die punch vir hulle almal gevat het nie.” Niks kan verder van die waarheid wees nie. Daar’s ‘n fundementele fout met so ‘n seining wat God uitbeeld as die onwillige Regter wat teensinnig is om skuld sommer net so kwyt te skel. Die gebeure op Golgotha het plaasgevind a.g.v. God se ongelooflike groot begeerte om te vergewe, nie Sy onwilligheid nie. In die hart van die Vader lê die begeerte om te vergeef en dis vir hierdie rede dat Hy die hele versoenings proses begin het.

Maar die dissipline van belydenis is nie net vir diegene wat weergebore word nie. Dis ‘n integrale deel van die Christen se lewenswandel. In ons dag en tyd is mens geneig om te dink dat belydenis ‘n private saak is wat uitsluitlik tussen my en God plaasvind. Dit is waar dat vergifnis tussen jou en God plaasvind, maar dieselfde boek wat sê ‘daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus’ sê ook in Jak. 5:16 ‘Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word’. Die diepe waarheid in daardie laaste vers kan vir menigte Christene verlossing van skuld en genesing van emosionele en fisiese wonde bring.

Dis belangrik om te onthou dat sonde nie net jou verhouding met God skaad nie, maar ook jou verhouding met ander en jou verhouding met jouself. Vergifnis herstel die eerste, maar aardse vehoudings word herstel deur genesing. Terwyl vergifnis altyd van God kom, is daar ‘n genesingselement wat baie keer eers realiseer wanneer sonde bely word voor ‘n mede Christen.

Ek dink nie dis wys om te dogmaties te raak en ‘n rigiede instelling van belydenis te maak nie. Jy hoef nie met elke tweede sonde na die ‘priester’ te hardloop vir genesing en vergifnis nie. Sien dit liewers so: Is daar spesifieke sondes waarvoor jy al telke male vergifnis gevra (en gesmeek) het, maar waarvoor jy geen bevryding ervaar nie, maar jou vergifnis betwyfel en jou versoening bevraagteken? Is daar seer en pyn uit die verlede wat, ten spyte van jou belydenis teenoor God, ‘n konstante metgesel bly? Skraap moed bymekaar en bestraf die trots wat jou altyd sal wil weerhou van die volheid wat God vir jou instoor het. Gaan dan na ‘n mede vriend in Christus (of jou man of vrou) wie se vrug sigbaar is en wie jy kan vertrou, en bely jou sondes voor hom/haar in die Heilige Gees se teenwoordigheid. Daar is ‘n geheime krag weggesteek in belydenis van sondes onder mekaar wat verlore geraak het. Menigte mense getuig van die tasbare bevryding wat kom wanneer sondes verwoord en hardop bely word voor ander.

Hoekom is dit so moeilik om sondes hardop te bely? Die vlees haat dit want dit breek deur alle skanse en valsheid. Die beeld wat ek van myself probeer skep as ‘n sterk geestelike mens word vernietig, en ek herken my verskriklike afhanklik van God se onverdiende guns. Dit wat sekuur in die donker gehou was kom in kontak met Jesus se genesende lig en bevryding en verlossing is onvermydelik.

Vader het groot drome vir elkeen van Sy kinders – moet nooit dat onbelyde sonde in die pad daarvan staan nie!

No comments:

Post a Comment