Thursday 4 November 2010

Aanbidding

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

Aanbidding is ‘n leefstyl. Dis ‘n integrale deel van jou lewenswandel as Christen. Dis die vermoë om, vanaf die vroeë ogggendure wanneer jy wakker word terwyl dit nog donker is, tot laat in die aand, God se naam en werke groot te maak. Klink dit onmoontlik? Dit is beslis nie – waarom anders sou Paulus ons bemoedig het om te ‘bid sonder ophou’ (Tess. 5:17). Dis deur aanbidding ‘n lewenstyl te maak dat ons in konstante gesprek met God bly en ons verhouding met hom verdiep. Maak dit ‘n gewoonte om vir elke sonsopkoms vir God dankie te sê en vir elke sonsondergang sy Naam te loof en prys. Dit is dan dat Sondag-aanbidding die werklike doel bereik – wanneer dit ‘n uitvloeisel is van ‘n lewenstyl van prys.

Musiek speel ‘n belangrike rol in aanbidding, maar aanbidding is baie meer as die sing van liedere. Vorme en rituele kon nog nooit aanbidding meebring nie - ons kan al die beste tegnieke, nuutste instrumente en regte liturgie hê, maar aanbidding vind slegs plaas wanneer gees in aanraking kom met Gees. Wanneer ons hart en siel oopmaak en sonder reservering ‘n vergrootglas na die hemel wys sodat ‘n verdwaalde wêreld kan sien hoe groot ons God is.

Een van die redes waarom mense sukkel om God te aanbid in ‘Gees en waarheid’ (Joh. 4:24) is die ongegronde vrees wat baie het om emosies by hul aanbidding te betrek. Gevoelens is ‘n integrale deel van die menslike siel en behoort deel te wees van aanbidding. Vir diegene wat groot geword het in ‘n kultuur (of era) waar denke en intellek geprioritiseer is ten koste van emosies, is dit ‘n natuurlike struikelblok. Maar soos met enigiets anders, moet ons ons idees en reserverings opsy skuif en kyk wat die Skrif te sê het. Bestudeer die Ou Testament en jy sal sien dat die voorgangers van die geloof God aanbid het met die volheid van hul menswees - mense soos David wat ongereserveerd voor God gedans, jubel en juig het. Bestudeer die Nuwe Testament en jy sal sien dat die eerste Christene aanbid het met denke, will en emosies - mense soos Paulus en Silas wat in ‘n donker Filipynse tronk gesing en aanbid het tot die aarde begin skud het, letterlik.

Die idee is nie dat aanbidding ‘n irrasionele oefening is nie, maar dat aanbidding wat uitsluitlik kognitief is, nie voldoende is nie. Aanbidding is ‘n gebeurtenis op verskeie vlakke – iets wat soms gepaart gaan met intense emosionele ervarings en ander kere blote intellektuele bevestiging van waarheid is. Dis wat Jesus bedoel het toe hy gesê het dat aanbidding in ‘gees en waarheid’ moet geskied. Waarheid sonder gees is niks meer as mensgemaakte godsdiens nie. Aan die ander kant neig die gees sonder waarheid na mensgemaakte chaos. Werklike aanbidding betrek albei.

Kyk hoe die Psalms aanbidding beskryf. Die geskrifte van David loop oor met gebare soos om te kniel, jou hande te lig en selfs te dans. As aanbidding vir jou nog altyd net die blote sing van gesange was, volg David se raad en kyk die effek wat dit het op jou aanbidding.

Ons kan natuurlik al hierdie dinge doen en nooit aanbid nie. Daar is geen formules nie en enigiemand wat vir jou sê jou moet dit of dat doen wanneer jy aanbid verstaan baie min van werklike aanbidding. Vra hierdie week vir Vader watse tipe aanbidding Hy van jou verlang en reageer op sy impulse.

No comments:

Post a Comment