Tuesday 16 November 2010

Afsondering

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

Oor die algemeen het die moderne mens ‘n vrees vir alleen wees. Ons word wakker met geraas en gaan slaap met musiek in ons ore. Ons onderhou ‘n stroom van woorde en sinnelose geselsies net om sosiale kontak te behou. Jong kinders probeer elke denkbare oomblik tussen vriende spandeer en werkendes vlug na kroeë, kuierplekke of televisiestelle. Die oomblikke van die dag wat ons wel alleen is vind ons verlossing in selfone en radio’s – enigiets om nie verdoem te wees tot die klooster van eensaamheid en stilte nie. Eensaamheid is ‘n donker realiteit wat die meeste in ons kultuur vermy en ontvlug. Maar Jesus roep ons van eensaamheid na afsondering…

Eensaamheid of gekletter is nie ons enigste alternatiewe nie. Deur die Heilige Gees het Christene die vermoë om ‘n inner afsondering en stilte te kweek – iets wat eensaamheid en vrees vervang met vrede en tevredenheid. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, kan ons as kinders van Vaders, verlossing kry uit die afhanklikheid van gejaag en geraas waaraan ons kultuur verslaaf is. Die volwasse geestelike persoon hantaaf innerlike vrede en stilte tussen mense en in tye van alleen wees. Hy het nie ‘n vrees vir alleen wees nie want hy weet hy is nooit alleen nie. Hy het ook nie ‘n vrees om tussen mense te wees nie, want mense beheer hom nie. Die persoon met innerlike stilte is nie afhanklik van sosiale interaksie om goed te voel nie.

Dis een ding om met vroomheid die afsondering van die hart te bespreek en intellektueel saam te stem. Maar die geestelike dissipline is iets wat beoefen moet word. Ons kan alles weet en verstaan van meditasie, vas en stilte, maar as hierdie dinge nie op een of ander manier deel word van ons praktiese lewenservaring nie, mis ons die punt van die die klassieke geestelike dissiplines. Dieselfde is waar van die dissipline van afsondering. Dis meer as ‘n gedagtegang - dis ‘n aksie.

So wat kan dien as praktiese stappe tot afsondering? Wel eerstens is dit ‘n goeie idee om die nut te sien in die klein oomblikke van stilte wat ons dae vul. Dink aan die vroeë oggendure wanneer jy wakker word en alles nog stil is, of die stilte rondom ‘n oggendkoffie. Kere wanneer ons in die kar in verkeer vassit. In plaas van geïriteerd te word en frustrasie ‘n uitlaatklep gee, koop hierdie tye uit vir innerlike stilte. Kry vir jou ‘n plek in die natuur of in jou huis waar jy af en toe alleen kan wees – vry van die geblêr van die media en ander se opinies. Waar jy stil voor God kan wees en enigiets wat aandagafleibaar is verwyder sodat jy Sy stem kan hoor en op Hom kan fokus. Vier keer ‘n jaar, onttrek drie tot vier ure vir afsondering met die oog op reorïenteering van jou lewensdoelwitte. Wat wil jy bereik oor een jaar van nou? Wat van tien jaar van nou?

Stilte en afsondering het die ongelooflike vermoë om ons perspektief te gee. Wanneer ons in afsondering is en dink oor ons lewe en verhouding met Vader, vind orïentasie plaas en word ons vernuwe en versterk in gees en liggaam. Die skeppende stilte van afsondering help ons om werklik teenwoordig te wees tussen mense. Hy wat bevry is van die verslawing van mense en hul opinies, kan sinvol tussen hul verkeer.

No comments:

Post a Comment