Sunday 26 September 2010

Die Klassieke Geestelike Dissiplines

Oppervlakigheid is die vloek van ons tyd. Die groot behoefte vandag is nie aan meer intelligensie of elegansie nie, maar aan diepte. Nie aan meer wêreldswyse mense nie, maar aan mense met ‘n ongeinhibeerde egtheid.

Vir die dissipel van Jesus is hierdie stellings meer as ooit in die geskiedenis, van toepassing – Vandag is daar ‘n groot aanslag, van binne die kerk, om ‘n verhouding met Jesus te vervang met óf ritualistiese Godsdiens, óf ‘n evangelie van self-vervulling. Die evangelie van self-vervulling oorheers Christen media. Geestlike literatuur en televisie is uit om ons te oorrompel met die kennis dat Jesus se hoofdoel is om ons die gelukkigste, kommervryste en rykste mense op aarde te maak.

Godsdienstigheid aan die ander kant, met al sy meegaande eksterne regulasies is die mens se beste poging om te na-aap dit wat slegs God kan doen nl. Innerlike transformasie. En is dit nie eintlik wat ons rerig najaag nie? Na jare van kerkbywoning en Bybelstudie bly baie van ons onverandererd. En ten spyte van ‘n smagting om die karakter van die Seun van God te omhels en eien is die meeste van ons, die rerige ons (na die kerkmaskers en Godsdienstigheid weggestroop is) nog dieselfde persone met onvoorspelbare humeure en wêreldse impulse. So, is ons as kinders van Vader bestem om onveranderd te leef tot die dag dat ons Hom in die oë kyk? Nee, God kan en wil innerlike transformasie bring in sy kinders se lewe en hulle vorm tot die prentjie van sy Seun. Dis belangrik om te besef dat slegs die persoon van Jesus (nie kerk of Godsdiens) egte innerlike verandering kan bring, en terselfdetyd ook te besef dat daar wel iets is wat ons kan en moet doen.

Die klassieke Geestelike dissiplines is Geestelike ‘oefeninge’ wat ons voor God plaas en Hom toelaat om die transformasie te bring. Wat is die Geestelike dissiplines? Bybelse meditasie, gebed, vas, onderdanigheid, aanbidding en afsondering om ‘n paar te noem. Van hulle ken ons en van hulle is tot ‘n groot mate deur die modern protestantse kerk vergeet. Die klassieke Geestelike dissiplines, wat deur die vroeë kerk en Christene deur die eeue heen beoefen is, is opsigself kragteloos om verandering te bring, maar plaas ons voor die Een wat wel egte transformasie in ons lewens kan bring.

Deur die volgende klompie weke wil ek graag van hierdie skrywe gebruik maak om, hopelik, iets te leer oor die klassieke geestelike dissiplines en die toenadering tot God wat hul meebring. Christendom is nie ‘n stel doktrines en sinodebesluite wat ons intellektueel omhels en ons lewe rondom bedryf nie, dis ‘n lewendige, vibrante en lewenskragtige verhouding met ‘n Persoon. Die klassieke geestelike dissiplines help ons om daardie Persoon beter te leer ken.

Anton Schreiber

No comments:

Post a Comment