Sunday 12 December 2010

Feesviering

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

Die grootste voordeel van feesviering is dat dit ons red van die begeerte om onsself te ernstig op te neem – 'n ware gevaar vir enigiemand wat ernstig is oor die geestelike dissiplines. Baie godsdienstige mense het ongelukkig die geneigtheid om suur en vervelig te wees en hulself so ernstig op te neem dat hul met droeë en oninteressante lewens opeindig.

Dit behoort nie so te wees nie. Van alle mense, moet diegene wat in regte verhouding met hul Skepper staan, die mees vrye, lewendigste en interessantste wees. Die dissipline van feesviering voeg 'n tikkie vreugde en feestelikheid by die resep van ons daaglikse bestaan. Jesus het buitendien 'n lewe van blydskap en humor geleef, so by so dat sommige 'ernstiges' hom bestempel het as 'n vraat en 'n vriend van sondaars.

Feesviering is 'n skeppende en genesende oefening wat 'n dankbaarheid vir die lewe meebring. Net soos ons liggaam moeg raak van oorwerk, kan ons Gees moeg raak van strewe na God. Feesviering help ons ontspan en die goeie dinge van die Skepping te geniet. Natuurlik propageer ek nie 'n periodiese vervalling in sonde nie, maar eerder 'n dieper ervaring van vrolikheid. Feesviering laat vreugde in ons lewens toe, en vreugde maak ons sterk. Die vreugde wat van God kom, bring verlossing in treurigheid, voeg glans by elke dag en is by verre die mees effektiefste anti-depressant. Nemehia het verstaan dat “die blydskap in die Here is ons beskutting” (Neh. 8:10)

Hoe bewerk en bevestig mens vreugde en blydskap in jou lewe? Watter komplekse geestelike formules moet gevolg word voordat jy opstaan en gaan slaap met 'n glimlag van diepe tevredenheid? Ek is bevrees dis verskriklik eenvoudig: In die geestelike lewe is daar slegs een ding wat werklike vreugde produseer en dit is gehoorsaamheid. Vreugde is 'n resultaat van die gehoorsaamheid aan Christus en sy woorde. Om egte vreugde te ontlok moet gehoorsaamheid homself inwerk in die weefstof van ons allerdaagse bestaan. Sonder gehoorsaamheid is vreugde leeg en kunsmatig.

Christene vandag probeer die treurigheid en moedeloosheid van hul huise ontsnap en jaag kerk toe vir 'n 'inspuiting van vreugde'. Hul sal sing met passie en die charismatiese gawes beoefen in die soeke na 'n hemelse oortapping wat hul ellende kan omver werp. Maar vreugde word nie gevind in sekere tipe kerke of groepe nie. Vreugde word gevind in gehoorsaamheid. Wanneer ons ons lewens, ons standaarde en ons gedagtes in lyn stel met die beginsels en regulasies van God se wil en standaarde is blydskap 'n gelukkige byproduk.

Feesviering is die laaste van die klassieke geestelike dissiplines juis omdat dit die resultaat is daarvan. God bring 'n innerlike transformasie in ons lewens mee deur die dissiplines, wat ons die krag en begeerte gee om gehoorsaam aan Hom te wees. Vreugde en blydskap is die resultaat.

No comments:

Post a Comment