Thursday, 7 October 2010

Studie: Wat beteken dit om jou "denke te vernuwe"?

Die doel van die klassieke geestelike dissiplines is die totale transformasie van die innerlike persoon. Dit mik om ou ‘n vernietigende lewenstyl en gedagtepatrone te vervang met nuwe, lewe-gewende gewoontes. Met hierdie doel voor oë het die dissipline van studie ‘n baie belangrike plek – by geen van die dissiplines word verandering so daadwerklik en prakties meegebring, soos met studie nie. Meeste Christene bly vir jare gevangenis gehou deur vrese, angstigheid en desktruktiewe gedagtepatrone, net omdat hulle een van die primêre maniere wat God gebruik om sy kinders te verander, naamlik studie, af skeep.

In Rom 12:2 bemoedig Paulus ons om te verander deur ons ‘gedagtes te vernuwe’. Ons almal ken die skrif en lees dit gereëld maar weet ons werklik wat dit beteken? Gedagtes word nie vernuwe deur gebed, aanbidding of ‘n gehoorsame lewe nie. Gedagtes word slegs vernuwe deur dit toe te pas en in te fokus op enigiets wat verandering mee bring. Studie is blote herhaling, konsentrasie en reflektering op ‘n spesifieke objek, gebeur of persoon wat nuwe gedagtepatrone tot gevolg het. As dit gekompliseerd klink mag ‘n praktiese voorbeeld dalk help: Bestudeer elke aand, vir 300 dae ‘n jaar, die geweld en immoraliteit wat die sekulêre media met graagte vir jou sal voer en kyk die invloed wat dit het op jou gedagtepatrone en denkwyses (Probleme met woede en seksuele versoeking?). Aan die ander kant, maak ‘n punt daarvan om weekliks gedeeltes van die Bybel te bestudeer en analities te ontleed en neem waar hoe Vader stadig maar seker jou karakter en menswees omskep tot die vorm van Sy seun. Sukkel jy met vrees? Lees en bestuurder Johannes se raad oor volmaakte liefde in 1 Joh 4. Lae-selfbeeld? Lees na wat die skrif te sê het oor jou identiteit in Christus en die spesiale plek wat jy in Vader se hart behou (jou naam is in Sy handpalms gegraveer!). Slaan na, lees, bestudeer, herkou en reflekteer daarop. Kort voor lank mag jy dalk vind dat van jou ou slegte gewoontes vervang is met nuwe Goddelike gewoontes. Dis nie dat jy harder probeer om anders te wees nie, jy is anders – innerlike transformasie het plaasgevind.

Die idee is natuurlik nie dat ons nooit televisie kyk en heeldag moet Bybelstudie hou nie. Die idee is bloot dat ons baie versigtig moet wees wat ons onsself, en veral ons kinders, toe laat om te bestudeer (met herhaling op te konsentreer en reflekteer) op ‘n gereelde basis. Salomo stel dit nog die beste: Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe’ (Spreuke 4:23).

Die woord studie het vir baie ‘n konnotasie met ‘eksamen’. Lê gerus sulke idees opsy en benader die Skrif met die wete dat jy hier te doen het met woorde van lig en lewe. Onthou, een honderd persent van diegene wat vernietiging op hul eie lewe bring, doen so omdat hulle riglyne en beginsels van die Bybel geminag het. In Sy woord gee Vader vir ons duidelike en praktiese riglyne waar volgens ons ons lewens moet inrig. Bestudeer dit en laat jou gedagtewêreld toe om daar rondom te vorm. Studie van hierdie boek kan en sal jou totale lewe verander!

Monday, 4 October 2010

Is dit relevant om vandag nog te vas?

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

In ‘n kultuur waar die horison gestippel is met goudgeel hamburger boë en ‘n verskeidenheid van pizza tempels, is vas nie ‘n gunsteling tydverdryf nie. Ons is so gewoond daaraan om te eet wat ons wil wanneer ons wil, dat die vrywillige weerhouing van kos iets is wat fronse ontlok by die meeste, en bestempel word as vreemd en outyds. Die waarheid is dat vas nie outyds is nie, dis antiek! Dis iets wat op weeklikse of maandelikse basis deur miljoene Christene deur die eeue heen beoefen is, en ten sptye van hierdie feit, deur groot gedeeltes van moderne kerk verwaarloos word en min of geen kansel-blootstelling kry.

Media propaganda wil laat blyk dat die gemiddelde mens sonder drie groot maaltye en verskeie happies tussenin op punt van omkap is. Maar soos met enigiets van waarde, draai ons na die Skrif vir antwoorde: Dié dissipline word nêrens in die Nuwe Testament verhef tot ‘n wet of ‘n regulasie wat slaafs nagevolg moet word (soos bv. die Islammiese instelling van Ramadan) nie.

Christus het nooit gesê ‘Julle moet vas’ of ‘Julle sal vas nie’ – sy woorde in Matt 6:16 is bloot, ‘Wanneer julle vas…’. By Jesus was daar ‘n veronderstelling dat sy volgelinge sou vas. In Matt 9:15 kom vra die volgelinge van die Doper vir Jesus waarom sy dissipels nie vas nie. Hy bied die duidelikste antwoord oor die toepaslikheid van vas vir vandag wanneer hy sê: ‘Kan die bruilofsgaste [dissipels] dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom [Jesus] van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.’ (Insetsels myne).

Soos met al die geestelike dissiplines het vas opsigself geen krag om verandering in ons karakter mee te bring nie. Dis bloot ‘n kanaal wat ons voor God plaas, ‘n paadjie wat ons stap tot by die troon van die enigste Een wat werklike innerlike transformasie kan meebring. Deur onsself te weerhou van fisiese kos word die vlees binne ons onderdruk. Die ‘vlees’ gedeelte van ons samestelling wat gewoonlik reguleer wat en wanneer ons eet, hoe laat ons opstaan en hoe ons voel, word vir ‘n slag onderwerp tot die onveranderlike Gees van God binne ons. Iets waarteen dit gewoonlik vreeslik teëskop en kla. Vas stroop ons van dit wat pronk en die werklike ons, wat gewoonlik toegegooi word met vleis en speserye, kom na die oppervlak. ‘n Lig word geskyn op daai impulse of houdings wat die vlees gewoonlik mooi wegsteek, en ons leer meer oor onselfs in ‘n dag van vas as in ‘n normale maand.

‘n Oorvloed van moderne mites oor vas soos ‘Ek’t gehoor dis skadelik vir jou gesondheid’ of ‘Dit vernietig gesonde liggaamsweefsel’ is totale nonsense wat spruit uit onkunde. Die mees algemeenste vas is ‘n totale weerhouing van kos (nooit water) vir ‘n periode van 24 uur en vir beginners is dit goed om een maaltyd ‘n dag, soos middagete te sny. Hoe gereeld of tot watter mate gevas moet word is totaal in die hande van die individuele gelowige. In kort, om te vas is om jou geestlike sintue te verskerp. Soos een professor eenkeer prakties uitgebeeld het: ‘Christene is grotendeels afgestomp vir die misbruik van Jesus se naam in allerdaagse media, maar kyk ‘n Hollywood treffer na ‘n week van vas en gebed en sien of dit jou dan pla!’

Wednesday, 29 September 2010

Christen Meditasie

Hierdie skrywe maak deel van ‘n meegaande reeks oor die Klassieke Geestelike dissiplines soos uiteengesit in die boek ‘Celebration of Discipline’ deur Richard Foster.

In die modêrne tyd word Christene weerhou van intimiteit met hul Vader deur ‘n kultuur wat floreer op geraas, gejaag en skares. Solank die vyand ons kan hou by ‘n plek waar ons lewe ‘n gejaag van een projek na die ander is en ons weke in maande verander sonder enige betekenisvolle tyd saam met God, is hy gelukkig. Die Christelike disipline van Meditasie staan in skerp kontras met die aandagafleibaarheid en onhophoudelike gewarboel van kontemporêre kultuur en is vir hierdie einste rede so moeilik vir die moderne mens om te verstaan en beoefen.

In die Skrif sien ons iets anders: Karakters soos Isak, Eli, Moses, David en Jesus het die krag en nut van meditasie ingesien. Psalm 1 bestempel as ‘Welgeluksalig’ (tevrede en gelukkig) die man wat God se wet en werke dag en nag oordink. Jesus het homself gereëld uit ‘n buitengewoon besige bediening onttrek en “vertrek na ‘n verlate plek alleen” (Matt. 14:13).

So wat is Meditasie? Die woord ontlok by die meeste van ons beelde van Buddhistiese priesters, afgodsbeelde en wierook. Maar om Christen meditasie as sinoniem te sien met die meditasie van Oosterse godsienste is ‘n groot fout, die twee is, om die minste te sê, wêrelde uit mekaar. Terwyl Oosterse meditasie vryheid van die wêreld en leegheid van die denke probeer bewerk is die doel van Christen meditasie om ons vol van God, Sy wonders en Sy woord te maak. Christen meditasie is die vermoë om God se stem te hoor en te reageer daarop. Prakties behels dit ‘n tyd van stilte en rus, waar die gedagtes tot God gerig word. Gebed is nie noodwendig altyd deel van meditasie nie, dis ‘n tyd waar ons fokus op God en dink aan sy woord (miskien ‘n spesifieke vers of idee) en aan sy goedheid in ons lewe. Tydens hierdie tyd mag Vader vir jou spesifike raad of insig gee oor dinge. Ander tye ervaar jy weer net Sy Liefde en goedheid, iets wat die lewe opnuut ‘n nuwe glans gee!

Daar’s geen gehieme resepte of intelektuele toertjies betrokke nie. Meditasie is bloot ‘n tyd waar ons vir God ruimte en tyd maak om saam met ons te stap en gesels soos Hy eens het met die eerste mense in die tuin. Die enkeles wat bereid is om uit die geraas en gejaag van die lewe te stap en in die binnekamer stil te word voor die Skepper van als, pluk die vrugte van doelgerigte en betekenisvolle lewens. Om ‘n halfuur ‘n dag stil te word en niks te doen behalwe te dink aan God, is nie ‘n ‘mors van tyd’ nie, dit maak dalk net die ander 23 en ‘n half ure in jou dag die moeite werd!

Meer as wonderwerke en bybelstudie bewerk Christen Meditasie by ons ‘n familêre, eerbare vriendskap met Jesus. Die konstante teenwoordigheid van God verander van ‘n Teologiese dogma na ‘n stralende realiteit. Die lewe wat God tevrede stel is nie een van Godsdienstige pligte nie; dis om Sy stem te hoor en te gehoorsaam. God smag na diepe verhouding met jou, so word stil, en hoor wat Hy te sê het oor jou lewe!

Sunday, 26 September 2010

Die Klassieke Geestelike Dissiplines

Oppervlakigheid is die vloek van ons tyd. Die groot behoefte vandag is nie aan meer intelligensie of elegansie nie, maar aan diepte. Nie aan meer wêreldswyse mense nie, maar aan mense met ‘n ongeinhibeerde egtheid.

Vir die dissipel van Jesus is hierdie stellings meer as ooit in die geskiedenis, van toepassing – Vandag is daar ‘n groot aanslag, van binne die kerk, om ‘n verhouding met Jesus te vervang met óf ritualistiese Godsdiens, óf ‘n evangelie van self-vervulling. Die evangelie van self-vervulling oorheers Christen media. Geestlike literatuur en televisie is uit om ons te oorrompel met die kennis dat Jesus se hoofdoel is om ons die gelukkigste, kommervryste en rykste mense op aarde te maak.

Godsdienstigheid aan die ander kant, met al sy meegaande eksterne regulasies is die mens se beste poging om te na-aap dit wat slegs God kan doen nl. Innerlike transformasie. En is dit nie eintlik wat ons rerig najaag nie? Na jare van kerkbywoning en Bybelstudie bly baie van ons onverandererd. En ten spyte van ‘n smagting om die karakter van die Seun van God te omhels en eien is die meeste van ons, die rerige ons (na die kerkmaskers en Godsdienstigheid weggestroop is) nog dieselfde persone met onvoorspelbare humeure en wêreldse impulse. So, is ons as kinders van Vader bestem om onveranderd te leef tot die dag dat ons Hom in die oë kyk? Nee, God kan en wil innerlike transformasie bring in sy kinders se lewe en hulle vorm tot die prentjie van sy Seun. Dis belangrik om te besef dat slegs die persoon van Jesus (nie kerk of Godsdiens) egte innerlike verandering kan bring, en terselfdetyd ook te besef dat daar wel iets is wat ons kan en moet doen.

Die klassieke Geestelike dissiplines is Geestelike ‘oefeninge’ wat ons voor God plaas en Hom toelaat om die transformasie te bring. Wat is die Geestelike dissiplines? Bybelse meditasie, gebed, vas, onderdanigheid, aanbidding en afsondering om ‘n paar te noem. Van hulle ken ons en van hulle is tot ‘n groot mate deur die modern protestantse kerk vergeet. Die klassieke Geestelike dissiplines, wat deur die vroeë kerk en Christene deur die eeue heen beoefen is, is opsigself kragteloos om verandering te bring, maar plaas ons voor die Een wat wel egte transformasie in ons lewens kan bring.

Deur die volgende klompie weke wil ek graag van hierdie skrywe gebruik maak om, hopelik, iets te leer oor die klassieke geestelike dissiplines en die toenadering tot God wat hul meebring. Christendom is nie ‘n stel doktrines en sinodebesluite wat ons intellektueel omhels en ons lewe rondom bedryf nie, dis ‘n lewendige, vibrante en lewenskragtige verhouding met ‘n Persoon. Die klassieke geestelike dissiplines help ons om daardie Persoon beter te leer ken.

Anton Schreiber